Landsvlag | Landswapen |
---|---|
(Besonderhede) | (Besonderhede) |
Basiese gegewens | |
Ampstaal: | Duits |
Hoofstad: | Wiesbaden |
Stigting: | 19 September 1945 |
Oppervlakte: | 21 114,94 km² (7de) |
Bevolking: | 6 391 360[1] (5de) (31 Desember 2022) |
Bevolkingsdigtheid: | 303 inwoners / km² (7de) |
Volkslied (Landeshymne): | Hessenlied |
BIP - Totaal - Aandeel aan Duitse BIP |
2021 323,352 miljard €[2] 8,6% |
Skuldlas per inwoner: | 6 179 € (30 September 2023) |
Totale skuldlas: | 39,492 miljard €[3] (30 September 2023) |
Werkloosheid: | 6,9%[4] (Desember 2023) |
ISO 3166-2: | DE-HE
|
Amptelike webwerf: | hessen.de |
Politiek | |
Eerste minister: | Boris Rhein (CDU) |
President van die Landtag: | Astrid Wallmann (CDU) |
Regerende partye: | CDU en SPD |
Setels in die parlement (Landtag) (133 setels) (2018: 137 setels): |
CDU 52 (2018: 40) AfD 27 (19) SPD 23 (29) B90/Grüne 22 (29) FDP 8 (11) Onafhanklik 1 (–) |
Laaste verkiesing: | 8 Oktober 2023 |
Volgende verkiesing: | Oktober 2028 |
Parlementêre verteenwoordiging | |
Stemme in die Federale Raad (Bundesrat): | 5 (van 69) |
Kaart | |
Hesse (Duits: Hessen, [ˈhɛsn̩], ), amptelik die Deelstaat Hesse (Land Hessen), is met 'n oppervlakte van meer as 21 000 km² die sewende grootste deelstaat van Duitsland. Sy bevolking van ses miljoen is in die Ryn-Main-streek van Suid-Hesse saamgetrek. Hier is ook vier van Hesse se vyf grootste stede geleë – die administratiewe hoofstad Wiesbaden, Frankfurt am Main, Darmstadt en Offenbach. Noord-Hesse het 'n meer landelike karakter met 'n laer bevolkingsdigtheid. Die grootste nedersetting in die noordelike landsdeel is Kassel.
Die vroegste spore van menslike gemeenskappe dateer van die Würm-ystydperk sowat 50 000 jaar gelede. Die Romeine, wat die gebied van die huidige Suid-Hesse by hul ryk ingelyf het, het diep spore gelaat, onder andere met die Limes Germanicus, die versterkte noordelike grens van die Romeinse Ryk met vestings, forte en wagtorings wat oor 'n afstand van 500 kilometer tussen die Ryn en die Donau geloop het. Een van die grensforte, die Kastell Saalburg in die Taunus-bergreeks, is in die Wilhelminiese tydperk as museum herbou.
Die Middeleeue leef voort in die vakwerkboukuns en nou straatjies van klein stede en dorpe. Middeleeuse stadskerne het onder meer in Marburg, Limburg, Alsfeld en Michelstadt bewaar gebly, net soos sakrale geboue soos die 13de eeuse Elisabethkerk in Marburg wat as die oudste Gotiese kerk in Duitsland beskou word. Belangrike domkerke het ook in Limburg, Fulda en Wetzlar ontstaan. Frankfurt se Paulskerk het met die demokratiese nasionale vergadering van 1848 bekendheid verwerf. Darmstadt in Suid-Hesse het omstreeks 1900 onder andere met die kunstenaarskolonie Mathildenhöhe tot een van die belangrikste sentra van die Jugendstil-kunsbeweging in Duitsland ontwikkel.
Ná die Tweede Wêreldoorlog het Frankfurt am Main tot een van die beduidendste ekonomiese en finansiële metropole van Duitsland gegroei. Sy stadsilhoeët met talle wolkekrabbers is uniek in Duitsland.